Posted by bgourley on 02 JUNE 2008 at
Digitale reklame is vinnig besig om in Suid-Afrika se top-sjebiens en kroeë veld te wen danksy The Loxion Network van One Digital Media (ODM).
Aan die stuur is mnr. Mike Bosman, uitvoerende hoof van ODM en voormalige uitvoerende hoof van TBWAHunt Lascaris SA, wat vinnig gespring het om die groot potensiaal van ’n reuse-netwerk van skerms wat reklame en inhoud via satelliet, die internet en GPRS uitsaai, in sjebiens en kroeë te ontgin.
Digitale skerms in afsetpunte landwyd is gekoppel aan ’n inhoudvoer van reklame, vermaak en verpersoonlikte plaaslike inhoud en advertensie van ODM se beheersentra in Durban en Stellenbosch. Dié netwerk kan verskillende inhoud na elke skerm of ’n groep skerms aflaai.
ODM het die afgelope jaar meer as 5 000 skerms in honderde supermarkte, sjebiens, drankwinkels en ander afsetpunte geïnstalleer.
Die nuwe sjebien- en kroeginisiatief volg kort op die hakke van One Digital Media se installering van skerms in SuperSpars en Tops-drankwinkels. Dit behels tot 45 kanale per winkel.
Die netwerk word ook deur verskeie ander top-handelsname en bemarkers soos Unilever, Cadburys, Coca-Cola, Rainbow Chicken, Distell, Vinimark en Colgate gebruik.
Bosman glo digitale bemarking in ’n kleinhandelomgewing verminder nie net ’n oorvol reklameomgewing in winkels nie, maar kan ook met die druk van ’n knoppie verander word.
Dit word ook dikwels gebruik vir die opleiding van en kommunikasie met personeel ná werktyd.
Digitale netwerke in winkels en supermarkte saai nie TV-advertensies uit nie, aangesien die skerms nie klank het nie, en kopers nie vir 30 sekondes rondstaan om die skerms dop te hou nie.
Die inhoud is baie kort en die plasing van die skerms in die winkel is uiters belangrik om die nodige doeltreffendheid te lewer. Inhoud word ook pasgemaak vir verskillende plekke.
Volgens onafhanklike navorsing deur ODM van 22 handelsname, staan ’n handelsnaam 33% meer uit wanneer hy op ’n digitale winkelskerm adverteer.
Bewustheid van die skerm by die verbruiker lei ook tot styging van 29,6% in verkope van die bepaalde handelsnaam. Dié resultate is volkome in pas met dié oorsee.
Waar digitale skerms nog ’n betreklike nuutjie in SA is, is dit al ’n gevestigde praktyk oorsee. Walmart in die VSA bereik nagenoeg 400 miljoen verbruikers per maand deur die digitale medianetwerk in sy 3 150 winkels.
Ander bekende oorsese kleinhandelaars wat gereeld digitale media gebruik is Harrods, Tesco’s, Circuit City en Cost Co.
Na raming sal 90% van alle kleinhandelaars in die VSA teen 2011 van een of ander vorm van digitale media in hul winkels gebruik maak.