« Back

One Digital Media makes waves in Die Burger and Beeld with Foschini - Store of the Future.

Posted by gwessels on 25 MARCH 2009 at

Interaktiewe digitale bemarking is hier.

Dít is gister by die bekendstelling van die klerekleinhandelaar Foschini se winkel-van-die-toekoms aan die lig gebring.

“Dit is ironies dat Foschini se IT-afdeling ons genader het om hulp met bemarking,” sê mnr. Bruce Gourley, bemarkingsbestuurder van die tegnologiegroep One Digital Media. Dit het uiteindelik gelei tot die Foschini-groep se nuutste bemarkingstrategie: interaktiewe skerms in die Foschini-groep se winkels.

Foschini is egter nie die enigste kleinhandelaar wat hiervan gebruik gaan maak nie. Voedselkleinhandelaars soos Spar is ook aan boord, sê Gourley.
Tel jy ’n bottel parfuum op, vertel die advertensieskerm agter die parfuum vir jou dadelik watter soort reukwater jy in jou hand het en hoeveel dit kos. Sou jy in die flessie sproeireën belangstel, sal die skerm dadelik ’n klein afslag aanbied, mits jy jou belangstelling laat blyk deur ’n SMS na die nommer op die skerm te stuur.

“Daar was nog nooit ’n manier om die sukses van konvensionele metodes soos kartonplakkate en opgeblaasde boodskappe binne winkels te meet nie,”sê Gourley.

Die mense agter die skerms sal dadelik kan vasstel hoeveel belangstelling daar in items is deur te kyk hoeveel keer ’n item binne ’n sekere tydperk opgetel word.

Volgens Gourley gaan bluetooth-bemarking ook ’n belangrike rol speel by die Foschini-groep. “Selfone is die mees toeganklike manier van kommunikasie in Suid-Afrika en kleinhandelaars sal daarvan moet begin kennis neem,” meen hy. Oor die “irritasie” van bemarking-SMS’e, sê Gourley die sleutel lê in die voordeel vir die verbruiker. “Bied ’n produk met ’n voordeel – soos ’n afslagprys – aan. Moet dit nie aan die klant probeer afsmeer nie. Die keuse is uiteindelik hare of syne,” sê hy.

Volgens Gourley is die konsepte voorgelê aan die Foschini-groep se handelsmerkbestuurders en sal elke winkelgroep – wat Markham, @home en American Swiss insluit – besluit watter konsepte die beste sal werk in daardie winkels. Die skerms sal voor die einde van die jaar in winkels verskyn.

One Digital Media makes waves in Die Burger and Beeld with Foschini - Store of the Future.

« Back

© 2008 ONE DIGITAL MEDIA | TERMS AND CONDITIONS | CONTACT US